Wintermusiekaand weer groot sukses
Die Centurion Raad vir Bejaardes (CRB) het onlangs weer eens ‘n baie suksesvolle jaarlikse fondsinsamelingsfunksie by die Lytteltonse Dienssentrum, Centurion gehou.
Die Wintermusiekaand is vir die 21ste keer aangebied en is al die gaste deur die voorsitter van die CRB, pastoor Steve Fereirra verwelkom.
Die stampvol saal was gevul deur plaaslike besigheidsmense wat hulle beursies groot oopgemaak vir Bobby Locke wat weer as afslaer vir die vyftien geborgde wynbottels asook ‘n gemonteerde skoen van Francois Steyn opgetree het.
Die bestuurder van die Lytteltondiensentrum, Sandra Theron het hom weer bygestaan.
‘n Heerlike driegang maaltyd is voorgesit waarna die sanger Jak de Priester die gaste met sy gevoelvolle liedjies vermaak het.
Na afloop van die funksie het Jak van sy CD’s wat deur gaste gekoop is, geteken en met hulle vir foto’s laat neem.
Centurion Raad vir Bejaardes bedank ondersteuners
Die volgende bedankingsbrief is van dr Elma Krüger, direkteur: Centurion Raad vir Bejaardes na afloop van die funksie ontvang en word graag met ons lesers gedeel:
Dorothy Wye
The Centurion
Na afloop van ’n heerlike Wintermusiekaand op 10 Mei 2016, spreek Centurion Raad vir Bejaardes sy opregte waardering uit aan verskeie borge en welwillende persone wat die funksie moontlik gemaak het.
Die Wintermusiekaand is reeds ‘n tradisie in Centurion en het hierdie jaar sy 21ste verjaardag gevier. Vir die Raad is die Wintermusiekaand nie net ‘n belangrike fondsinsamelingsprojek om gemeenskapsdienste aan weerlose ouer persone te finansier nie, maar skep ook ‘n wonderlike geleentheid vir vriende van Centurion Raad vir Bejaardes om betrokke te wees by ‘n spesiale welwillendheidsprojek en om saam te kuier.
Die 10de Mei 2016 se Wintermusiekaand was vol hoogtepunte wat gevarieer het van ‘n wynveiling en heerlike ete, tot die puik optrede deur Jak de Priester. Dankie aan alle rolspelers vir u ondersteuning. Dit sluit ook vir Dorothy Wye in wat op haar unieke wyse ‘n besondere bydrae tot ons funksie gelewer het. The Centurion koerant gee nie net blootstelling aan verdienstelike welsynsprojekte nie, maar voeg ook daad by die woord!
Dr Elma Krüger
DIREKTEUR
Centurion Raad vir Bejaardes
Leave your response!